preke en Lewendige uitsendings


Argief - gestoorde preke


2025

 2024     2023     2022     2021     2020

2019     2018     2017     2016     2015



kalender



Skakel

Februarie 2025

16 Februarie 2025

9Februarie2025

2Februarie2025

Januarie 2025

26Januarie2025

19Januarie2025

Geen Skakels meer na 10 November 2024 tot Januarie 2025 

November 2024

10 November 2024

3 November 2024

27 Oktober 2024

20 Oktober 2024

13Oktober2024

preeksketse


16 februarie 2025 aand diens


Aanddiens.

Sing: Ps. 106:1,2; Ps. 40:4; Ps. 89:1,8.

Lees: Heb. 2:1-18; Son 5.

Teks: Heb. 2:17; Son 5.

Tema: Ons kan alleen deur die betaling van ons Middelaar van al ons sonde vergewe word.



Tema: Ons kan alleen deur die betaling van ons Middelaar van al ons sonde vergewe word.

Vergewing vereis betaling 

Ons kan uit die Skrif weet dat ware geloof ‘n gewisse kennis is van die dinge wat ons hoop en ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons nie sien nie. Geloof is dus nie net vertroue dat ons gered is nie, maar ook kennis van ons ellende verlossing en dankbaarheid. Voordat ons egter by die kennis van ons verlossing kom moet ons eers verstaan wat met die geregtigheid van God bedoel word. Toe ons in sonde geval het, het ons die reg van die Here in gedrang gebring. Om vergewing te ontvang moet daar dan eers weer aan sy reg voldoen word.

Betaling vereis vermoë

Die vraag kom dan na vore wie aan hierdie betaling kan voldoen. Die Kategismus fokus eers alles en almal wat nie die vermoë het om aan die eis van die Here te voldoen nie. Dit waaraan voldoen moet word is die eise van die Here se wet. In ons kategismus word daar twee moontlikhede gestel om aan hierdie betaling te voldoen. Die een is onsself en die ander is of daar enige ander skepsel is wat aan die eis van die Here kan voldoen. Die antwoord is ‘n eenvoudige “nee” want onsself en alles in die skepping is deur die sonde besmet.

Onvermoë vereis ʼn Middelaar 

Wanneer onsself en niks anders in die skepping aan die eis van die Here kan voldoen nie blyk dit dat ons in ‘n hopelose situasie verkeer. Iemand moet betaal sodat daar vir ons verlossing kan wees. Daar moet dus ‘n middelaar vir ons intree wat waarlik mens is, want dit is die mens wat gesondig het en sy sonde daagliks nog meer maak. Hy moet ook waarlik God wees, want geen skepsel kan aan die prys voldoen wat die Here eis nie. Hierdie middelaar is ons Here Jesus Christus


16 Februarie 2025 oggend diens - nagmaal


Oggenddiens

Sing: Ps. 96:1,2,4; Ps. 96:5; Ps. 34:5,6; Skr. 45:4,8; Ps. 23:3; Ps. 116; Ps. 111:1,4.

Lees: Hag. 2:1-9

Teks: Hag. 2:4-5

Tema: Die Here versterk ons sodat ons in gehoorsaamheid en met vertroue kan werk


Tema: Die Here versterk ons sodat ons in gehoorsaamheid en met vertroue kan werk

Ons bemoediging

In die tyd van Haggai moet die volk weer opgeskerp word om met die heropbou van die tempel voort te gaan. Hulle moet hulle self ondersoek en sien dat die nabyheid en die teenwoordigheid van die Here nie meer die sentrale plek in hulle daaglikse lewe ingeneem het nie. Maar die Here gee hulle nie net die opdrag nie, Hy bemoedig hulle om sterk te wees. Hierdie bemoediging vind ons dikwels wanneer Israel voor groot uitdagings en momente in hulle volkslewe te staan kom. Tog kan hulle terugkyk en sien hoe die Here hulle bewaar het en hulle versterk het.

Ons roeping

Die volk kan terug kyk en in hulle geestesoog sien hoe goed die tempel was en deur die herinnering versterk word vir die taak. Wanneer die Here egter sy volk versterk roep Hy hulle ook nou op om te werk. Die werk aan die herbou van die tempel moet voort gaan sodat die simbool van die Here se teenwoordigheid weer duidelik kan word. Die werk wat ons daagliks in die koninkryk van die Here verrig kan ons alleen aanpak in vertroue op die Here. Omdat hy ons versterk weet ons ons werk nie uit eie krag of vir ons eie eer nie, maar alleen tot sy verheerliking.

Ons versekering

Die bemoediging en die roeping wat die Here aan ons gee, berus op die wonderlike sekerheid dat Hy getrou is aan sy verbond. Die werk wat ons daagliks in die Here se koninkryk doen staan altyd in die lig van dit wat Christus in sy volmaakte gehoorsaamheid aan die kruis gedoen het. Sy liggaam is gebreek en sy bloed het gevloei sodat ons opnuut verseker kan wees van die Here se teenwoordigheid in ons midde. In hierdie nagmaal word ons versterk om met die werk te kan voortgaan.



Aanddiens

Sing: Ps. 34:1,2,3; Ps. 130:1,2; Ps. 130:3,4.

Lees: Gal 3:1-14; Son 4

Teks: Son 4

Tema: God oordeel die ongeregtigheid omdat Hy die regverdige is.



Tema: God oordeel die ongeregtigheid omdat Hy die regverdige is.

Die regverdige eis van God.

Deel van die mens se ellende is dat ons altyd die blaam vir ons eie foute na ander wil skuif. In Son 3 het ons gevra of God ons dan nie so geskape het dat ons in sonde geval het nie. Nee, Hy het ons goed geskape. Nou gaan ons nog verder. Is Hy dan die onregverdig as Hy van ons iets eis waartoe ons nie in staat is nie. Die feit is dat die mens aan die begin goed geskape is en daarom tot die goeie in staat is. Om hierdie rede is dit nie onregverdig van die Here om die goeie van die mens te eis nie. God is nie die oorsaak van die geweldige oordeel waarin die mens homself gedompel het nie.

Die regverdige straf van God.

Op grond van die feit dat die Here nie van die mens eis wat hy nie kan doen nie openbaar God sy regverdige oordeel oor die sondegevalle mens. Die sondeval van die mens is so groot en die opstand teen God so geweldig dat God in sy geregtigheid ons met sy oordeel moet straf. Die regverdige oordeel van die Here spruit voort uit sy geweldige toorn oor die ongehoorsaamheid van die mens. So geweldig is sy toorn dat Hy die mens na die liggaam en siel in die tyd en die ewigheid met die ewige dood wil straf. Hy is regverdig in sy oordeel.

Die regverdige liefde van God.

Alhoewel ons by die aanhoor van hierdie realiteit moet sidder is dit wonderbaarlik dat hier reeds al flikkerings van hoop deurskemer. God is regverdig maar Hy is ook barmhartig. Te midde van sy barmhartigheid sien hy nie net die sonde oor nie, maar hy oordeel dit in geregtigheid. Hierdie regverdige oordeel en regverdige liefde van die Here ontmoet mekaar waar Christus aan die kruis sterf. Eerder as om die sonde ongestraf te laat straf hy dit met die bittere en smadelike dood van Christus.



9 Februarie 2025

Oggenddiens

Sing: Ps. 84:1,2; Ps. 84:6; Ps. 86:1,3; Ps. 127:1; Ps. 71:1,2,9.

Lees: Hag. 1v1-15

Teks: Hag. 1:5

Tema: Ons word geroep om tot eer van God in sy koninkryk te bou



Tema: Ons word geroep om tot eer van God in sy koninkryk te bou

Die moeilike omstandighede

Na jare wat Israel uit ballingskap teruggekeer het en die fondament van die tempel gelê is, het hulle nie met die bouwerk voorgegaan nie. Die tempel is die simbool van die Here se nabyheid in die midde van die volk, maar hulle is eerder besig om hulle eie huise op te bou en te verfraai. Hulle het uit gesien na voorspoed in die land maar daar was meer swaarkry. Deur beproewings roep die Here hulle op om selfondersoek te doen en te besin watter plek die Here en sy koninkryk in hulle lewe inneem.

Die roeping tot arbeid.

Die selfondersoek waartoe hulle geroep word dien ook as aansporing tot arbeid. Hulle moet op die berg opgaan en die hout bymekaarmaak om met die bouwerk voort te gaan. Die bou van die tempel sien vooruit na die koms van Jesus as die Messias, want hy is uiteindelik God in die midde van sy volk. Die afgebreekte tempel wys op sy dood en die herboude tempel oor die oorwinning oor die dood. As kerk leef ons opnuut as lewende stene in die bouwerk van God om tot sy eer kerk te wees.

Die nabyheid van die Here

Die bouwerk aan die tempel geskied nie uit eie inisiatief nie en dit word nie uitgevoer in eie krag nie. Wanneer Serubabel en Josua die bouwerk aanvoer verseker die Here deur sy profeet dat Hy met hulle sal wees. Waar hulle bou tot sy eer kan hulle seker wees dat die Here hulle nie alleen laat nie, want hulle kan seker wees dat hulle verhouding met Hom herstel is. Christus leer dat wanneer ons eers die koninkryk van die hemele soek sal al die dinge wat ons nodig het vir ons bygevoeg word.


Aanddiens

Sing: Ps. 48:1,4; Ps. 32:1,2; Ps. 32:5,6

Lees: Rom. 5:12-21; Son 3

Teks: Rom. 5:19; Son 3

Tema: Al is die mens goed geskape het ons so diep geval dat ons totaal verdorwe is



Tema: Al is die mens goed geskape het ons so diep geval dat ons totaal verdorwe is


Die mens is goed geskape.

Wanneer die mens onder  die besef van sy eie ellende kom moet ons natuurlik ook verstaan waar ons ellende vandaan kom. In die Kategismus word dit duidelik gestel dat die mens nie sondig geskape is nie, maar dat hy volkome goed na die beeld van God geskape is. As profeet kon hy God reg ken, as priester kon hy God in gehoorsaamheid dien en as koning kon hy God ten volle in die ewige saligheid loof en prys. God het ook nie van die mens geëis wat hy nie kon doen nie. Om hierdie rede is die ellende van die mens nie aan God te wyte nie, maar het ons dit self veroorsaak.

Die mens het diep geval.

Die volgende saak wat nou aan die orde kom is die vraag wat veroorsaak het dat die mens so diep in sy ellende geval het. Die mens is deur die val van Adam in die ellende gestort is. Die mensdom is in Adam verteenwoordig, daarom is ons ook vandag nog verteenwoordig in sy ongehoorsaamheid. Sy val het ‘n geweldige effek deurdat dit die hele skepping raak. Deur die ongehoorsaamheid van die een word baie eindelik tot sondaars gestel wat aan die regverdige oordeel van God onderworpe is

Die mens is totaal verdorwe.

Die val van die mens in die ellende se gevolge is egter vêrreikend. Nou is die mens nie meer in staat om enigsins goed te doen nie. Sy doel hier in die skepping was om God te ken, te dien en te eer, maar nou kan dit nie meer realiseer nie. Om dit te herstel is daar egter net een uitweg en dit is die wedergeboorte. Wat by die mens onmoontlik is om te bereik is by God moontlik. Daarom stuur hy sy eniggebore Seun sodat ons langs die weg van sy volmaakte gehoorsaamheid deur die wedergeboorte gered kan word.



2 Februarie 2025

Oggend diens

Sing: Ps. 75:1,4; Ps. 75:6; Ps. 71:1,9; Ps. 25:1,5; Ps. 89:1,17

Lees: Psalm 32

Teks: Psalm 32:1,2

Tema: Ons sonde word in Christus vergewe daarom kan ons God met blydskap dien.



Tema: Ons sonde word in Christus vergewe daarom kan ons God met blydskap dien.


Die noodsaak van vergifnis

Psalm 32 is een van sewe belydenis liedere in die Psalm bundel waarin daar veral op die belydenis en vergifnis van ons sonde gefokus word. Dawid het hierdie Psalm gedig nadat hy in sonde met Batseba geval het. Dit wat sonde is word baie duidelik aan ons openbaar. Dit is wanneer mens teen die grense wat die Here gestel het rebelleer en teen Hom in opstand kom. Die gevolge daarvan is dat ons die Here vertoorn en die Gees bedroef. Wanneer ons besef hoe ernstig ons sonde is besef ons ook hoe noodsaaklik dit is dat ons vergewing sal ontvang

Die werking van vergifnis

Die groot genade bestaan daarin dat die Here aan ons vergifnis skenk op grond van Christus se soenverdienste aan die kruis. Hierdie vergewing wat ons ontvang geskied volgens ‘n bepaalde werking. die sonde word vergewe, dit word bedek en dit word nie toegereken nie. Christus het ons sonde aan die kruis gedra en dit met sy bloed bedek. Nou word ons verkeerde dade ons nie meer toegereken nie. Die Here hou nie dit wat ons verkeerd gedoen het so teen ons nie, dat dit later weer opgehaal word nie. Christus het ons sonde ten volle uitgewis.

Die gevolge van vergifnis 

Die gevolge van die sonde is geweldig in ons lewe. Tog bly ons nie vasgevang in daardie gevolge nie. Die gevolge van vergifnis is wonderbaarlik en dring ons tot dankbaarheid. Op grond van die vergifnis wat ons ontvang het kan ons nou in ‘n nuwe gehoorsaamheid voor die Here leef en Hom met ‘n dankbare gehoorsaamheid dien. Die Heilige Gees werk in ons en rig ons om ons wil te buig sodat eenswillend met die wil van ons Vader sal wees. Daarom leef ons nou om die wil van die Here te doen.



26 Januarie 2025

Aand diens

Sing: Ps. 104:1,2,4,5; Ps. 19:3,4; Ps.19:5,6

Lees: Rom. 7:1-12 Son 2.

Teks: Rom. 7:7; Son 2.

Tema: Die kennis van ons ellende word deur God se wet aan ons openbaar.



Aand diens


Tema: Die kennis van ons ellende word deur God se

wet aan ons openbaar.


Die kennis van ons ellende

In Sondag 2 van die Kategismus word ons geleer dat daar ‘n duidelike verband tussen die kennis van ons ellende en die wet van die Here is. Om deel te kry aan die versoening wat ons in Christus ontvang het moet ons ‘n deeglike besef van ons sonde hê. Wanneer ons besef hoe sondig ons is besef ons ook hoe diep droewig en ellendig ons situasie is, want dit is deur die sonde wat die dood in die wêreld ingekom het. die dood is nie net die liggaamlike dood nie, maar die geestelike dood, waarin ons verwyder is van God. Ons kan alleen onder die kennis van ons ellende ken wanneer ons onsself teen die wet gaan spieël. In die wet van die Here eis Hy van ons liefde, vir Hom en ons naaste, maar ons is geneig om God en ons naaste te haat.

Die aard van ons ellende 

Haat is die teenoorgestelde van die liefde, en dit het in die lewe van die sondaar mens oorgeneem. Wanneer ons die wet van die Here hoor dan kom ons daarin agter dat die Here van ons liefde vir Hom en ons naaste eis, maar uit onsself is ons so vervul met haat dat ons dit nie kan nakom nie. Nou is dit juis hier wat daar vir die kind van die Here besondere troos lê. dit is die wete dat ons nie uit onsself aand ie eis van die liefde kan voldoen nie wat ons besef dat ons ons na hierdie gehoorsaamheid buite onsself moet soek. Ons het ‘n Middelaar nodig wat ons opnuut verseker van God se liefde. Daardie liefde wat Hy in Christus aan ons betoon het.

26 januarie2025 - oggend diens


26 Januarie 2025

Oggend diens

Sing: Ps. 92:2,6; Ps. 92:7; Ps. 139:1,2; Ps. 119:50;52; Ps. 119:53,55.

Lees: 2 Kor. 2:14-3:18.

Teks: 2 Kor. 3:2.

Tema: As getuienis van Christus moet ons sigbaar en leesbaar vir alle mense wees.



Tema: As getuienis van Christus moet ons sigbaar en leesbaar vir alle mense wees.

Die Skrywer van die brief.

In die Bybel word die kerk met verskillende beeld beskryf. In die brief aan die Korintiërs beskryf Paulus die kerk met die beeld van ‘n aanbevelings brief. Die gemeente is die getuigskrif van hulle as apostels se werk in hulle daaglikse bestaan. Wanneer die gemeente hoor dat hulle die brief is, is dit belangrik dat hulle sal verstaan dat Christus die Skrywer van die brief is. Hy is die Een wat besig is in hulle bestaan en Hy skryf deur die werking van sy Gees in hulle midde op die vleestafels van hulle hart.

Die inhoud van die brief.

Die Skrywer van die brief is duidelik aan die gemeente verkondig, maar die vraag is nou wat die inhoud van die hierdie getuienis brief is. Die brief is nie ‘n getuienis van die gemeente se sterkpunte nie. Die hoofsaak is nie die kerk of die mense in die kerk nie, maar die heerlikheid van God. Dit wat op die vleestafels van die hart geskrywe is het alles te doen moet die heerlikheid van God soos dit in Christus duidelik word. Sy verlossing, sy koningskap, sy roeping is die dinge waarvan ons moet getuig

Die lesers van die brief.

Die Skrywer en die inhoud van die brief laat dit ook duidelik word aan wie die brief gerig. Alle mense is die lesers van hierdie brief wat deur Christus geskrywe is wat van die heerlikheid van God  getuig. Dit bevestig weer ons roeping dat ons sal verstaan dat die wêreld die kerk sien. Dan is die vraag waarvan getuig ons in die wêreld. Die eis van God dat ons Hom moet liefhê en ons naaste soos ons self moet uiteindelik sigbaar en leesbaar vir alle mense rondom ons wees.


Aand diens

Sing: Ps. 145:1,2,11,12; Ps. 116:1,5; Ps. 119:61,62.

Lees: Jes. 25:1-12; Son 1

Teks: Jes. 25:8; Son 1

Tema: Deur sy oorwinning oor die dood is ons getroos in die wete dat ons aan Christus behoort.



Tema: Deur sy oorwinning oor die dood is ons getroos in die wete dat ons aan Christus behoort.

Ons behoefte aan troos.

Die onderrig in die waarhede van ons kosbare godgegewe geloof is iets wat nie net eenmalig gebeur nie. Dit is nodig dat ons altyd bewus sal wees van ons eie posisie as gebroke mense en daarom moet ons weer begin by die behandeling van die Kategismus. Die sonde waarin ons as mense geval het het veroorsaak dat hartseer en smart deel van ons daaglikse bestaan geword het. In Jesaja 25 word die realiteit van die hartseer en verdrukking vir ons duidelik gestel. Die feit dat ons in hierdie hartseer bestel leef bevestig dat ons ʼn grootse behoefte aan troos het

Ons gawe van troos.

Die wonder van die evangelie word nou vir ons sigbaar wanneer ons weet dat die Here in die midde van ons smartvolle sondige bestaan tog aan ons die troos gee wat ons nodig het. Hy het sy Seun gegee om ons van die sonde los te koop deur sy soenverdienste. Ons troos is in hierdie bedeling dat ons nie meer aan ons self behoort nie, maar aan Christus ons Here. Hy troos my deur my te verseker dat ek nie meer aan die duiwels mag van die sonde gebind is nie, maar in Hom vrygekoop is. Hy troos my dat ek verseker kan wees dat my Vader my in alles versorg. Hy troos my dat alles wat Hy in my lewe beskik tot my saligheid dien.

Die roeping van die troos

Die troos wat ons uit die Here se hand ontvang dien tot ons versterking en versekering, maar dit roep ons ook tot optrede in ons daaglikse bestaan. Wanneer ons getroos lewe en stewe word ons verseker dat ons nou gewillig vir Hom sal lewe. Ons Vader het deur die troos wat Hy aan ons gegee het ons opgewek tot ʼn nuwe lewe. Dit is ʼn lewe wat totaal aan Hom gewy is. ʼn Lewe wat getuig van die vreugde en die blydskap om aan Hom te behoort.


19 Januarie 2025

Oggend diens.

Sing: Ps. 135:1,2; Ps. 135:8; Skr. 10:1,2,5,6; Ps. 68:15,16; Ps. 147:1,7.

Lees: Psalm 65:1-14

Teks: Psalm 65:10

 Tema: Die Here begenadig en versorg sy skepping, daarom kan ons juig met blydskap.


Tema: Die Here begenadig en versorg sy skepping, daarom kan ons juig met blydskap.

Ons verly ons as gemeenskap

Die Here maak bemoeienis met ons in die kleinste besonderhede van ons lewe, maar Hy regeer ook in die grootsheid van sy skepping. Sy werke in die skepping het ook ten doel dat ons Hom sal eer en sy naam sal verheerlik. Die volk kom na ‘n droogtetyd byeen in aanbidding tot die Here vir die uitkoms wat hy gegee het. Hulle kan tot die Here nader want Hy is die verhoorder van hulle gebede. Hy het in sy geregtigheid tugtiging oor sy volk gebring maar hulle ook weer nader aan Hom gebring dat hulle as gemeenskap met Hom kan leef.

Ons verbly ons oor versorging

As gemeenskap kan die volk in die voorhowe van die Here se huis kom met dankgebed vir die wonderlike uitkoms wat hy gegee het. Na die beproewende droogte het die Here gegee dat die reën weer kom en die aarde benat. Die Here het die land besoek en in die natuur voorsien dat plant en dier versorg is. in hierdie genade het Hy ook weer aan sy volk weer ‘n oes voorsien deurdat die land ook weer ‘n koringoes kan oplewer. Die Here se sorg in die natuur baat ons as sy kinders. Wanneer ons die Here se sorg sien moet ons ons daarin verbly.

Ons verbly ons vir oorvloed

Die wonder is dat die Here se sorg vir sy kinders oorvloedig geskied. Dit is Hy wat die reën gegee het na die droogte tyd, maar nie net in beperkte mate nie. Hy het oorvloedig voorsien sodat die natuur en elkeen van sy kinders versorg kan wees. Dit is die getuienis dat die Here eindelik alles met sy goedheid oorvloedig kroon. Daarom kan die volk waarlik bly wees. Uit die oorvloed van ons hart kan ons die Here loof vir die oorvloed wat Hy aan ons voorsien het.


12 januarie 2025

12 Januarie 2025

Sing: Ps. 84:1,2; Ps. 84:6; Ps. 65:2,3; Skr. 41:1,2; Ps. 134:4, Ps. 66:1,6.

Lees: 2 Kor. 9:1-13

Teks: 2 Kor. 9:8

Tema: Die Here seën ons met oorvloedige genade, ons getuig daarvan deur diensbetoning

Getuienis van oorvloed



Tema: Die Here seën ons met oorvloedige genade, ons getuig daarvan deur diensbetoning

Getuienis van oorvloed

die bevestiging van ampsdraers word ons aandag weer op die taak en die roeping van daardie ampte gevestig. Die ampte is egter deur Christus ingestel sodat die gemeente toegerus kan word vir hulle dienswerk. Deel van die diakens se taak is om die gemeente voor te gaan in onderlinge meeleef en barmhartigheidsdiens. Paulus roep die Korintiërs op om mekaar so voor te gaan in diensbetoning, want die Here het oorvloedige genade en seën aan hulle gegee. Die oorvloed van die Here se seën word juis in Christus aan ons betoon.

Getuienis deur diensbetoning

Die Here het aan die gemeente die oorvloed van sy genade en seën gegee, daarom moet hulle ook nou bereid wees om te gee. Paulus gebruik die beeld van ‘n saaier om hierdie punt duidelik te maak. Indien ‘n saaier maar net bietjie  saad uitgooi sal daar nie veel vrug wees nie. Wanneer ons moet oorvloed gee sal ons ook uit die oorvloed die genade van die Here ontvang. Dit is juis omdat die Here sy genade aan ons betoon het dat ons sonder dwang uit ons oorvloed kan gee.

Getuienis tot verheerliking

Wanneer ons met vrymoedigheid gee kan ons ook die uitwerking hiervan sien. Daar is twee gevolge wat die Korintiërs kan weet wanneer hulle gee. Hulle sal in die eerste plek nie hulle self te kort doen nie, want die Here sal in sy genade ‘n ryke beloning skenk. Verder sal die gawe wat die gemeente gee uitloop op die dank aan die Here en die verheerliking van sy Naam. Ons kan met dankbaarheid weet en besef dat alles wat ons ontvang het en alles wat ons in die Here se diens gee dien tot sy eer.

Tema: Die Here seën ons met oorvloedige genade, ons getuig daarvan deur diensbetoning

Getuienis van oorvloed

die bevestiging van ampsdraers word ons aandag weer op die taak en die roeping van daardie ampte gevestig. Die ampte is egter deur Christus ingestel sodat die gemeente toegerus kan word vir hulle dienswerk. Deel van die diakens se taak is om die gemeente voor te gaan in onderlinge meeleef en barmhartigheidsdiens. Paulus roep die Korintiërs op om mekaar so voor te gaan in diensbetoning, want die Here het oorvloedige genade en seën aan hulle gegee. Die oorvloed van die Here se seën word juis in Christus aan ons betoon.

Getuienis deur diensbetoning

Die Here het aan die gemeente die oorvloed van sy genade en seën gegee, daarom moet hulle ook nou bereid wees om te gee. Paulus gebruik die beeld van ‘n saaier om hierdie punt duidelik te maak. Indien ‘n saaier maar net bietjie  saad uitgooi sal daar nie veel vrug wees nie. Wanneer ons moet oorvloed gee sal ons ook uit die oorvloed die genade van die Here ontvang. Dit is juis omdat die Here sy genade aan ons betoon het dat ons sonder dwang uit ons oorvloed kan gee.

Getuienis tot verheerliking

Wanneer ons met vrymoedigheid gee kan ons ook die uitwerking hiervan sien. Daar is twee gevolge wat die Korintiërs kan weet wanneer hulle gee. Hulle sal in die eerste plek nie hulle self te kort doen nie, want die Here sal in sy genade ‘n ryke beloning skenk. Verder sal die gawe wat die gemeente gee uitloop op die dank aan die Here en die verheerliking van sy Naam. Ons kan met dankbaarheid weet en besef dat alles wat ons ontvang het en alles wat ons in die Here se diens gee dien tot sy eer.


5 Januarie 2025

Sing: Ps. 100:1,2,3,4; Ps. 71:9; Ps. 51:4,5; Ps. 105: 1,2; Ps. 105:5 Ps. 105:3,6.

Lees: Jer. 31:1-36

Teks: Jer. 31:31-34

Tema: Die Here rig  sy nuwe verbond op en bevestig dat ons met vaste vertroue in ʼn nuwe verhouding met Hom sal leef.



Die Here rig  sy nuwe verbond op en bevestig dat ons met vaste vertroue in ʼn nuwe verhouding met Hom sal leef.


Die sluiting van die nuwe verbond.

Die Here het dit so beskik dat ons sy genade op twee manier kan leer, deur die bediening van die evangelie en die sakramente. By die doop is ons getuies van die groot genade werk wat die Here in die lewe van elkeen van sy kinders doen. Jeremia moet as profeet aan die volk die boodskap van die Here oordeel oor die sonde verkondig, maar hy moet ook verkondig dat die Here in sy liefde ‘n nuwe verbond met hulle sal sluit. Hierdie nuwe verbond is deel van die geestelike genesing wat die Here aan sy kinders sal gee deur die verdienste van Jesus Christus aan die kruis.

Die werking van die nuwe verbond.

Die gawe van ‘n nuwe verbond aan die volk van die Here het ‘n sekere werking in die midde van die volk. Die ou verbond is in die volk gegee deur dit op klip tafels te skrywe, maar die nuwe verbond sal in hulle harte ingeskrywe wees. So sal die nuwe verbondsverhouding in die kinders van die Here werk. Die implikasie hiervan is nou dat ons opnuut vir die Here lewe. Ons lewensgang word nou nie meer die onsself of deur die wêreld bepaal nie, maar deur die eis van ons Vader. Nou word ons opnuut geroep tot ‘n nuwe diensbaarheid waarin die eer van die Here voorop staan.

Die kennis deur die nuwe verbond.

Die wonder van die nuwe verbond is dat die kinders van die Here nie meer deur die bemiddeling van priesters en offers die Here sal ken nie. Die Here sal self deur sy Woord en Gees die kennis van sy kinders bewerk. Hierdie kennis vind sy hoogtepunt in Jesus Christus. Hy is die oorsprong en die bron van alle kennis van die Here. In Hom word die waarheid van die evangelie aan ons en ons kinders bedien, daarom staan Hy in die sentrum van alles wat ons van die Here leer.


29Desember2024

Leespreek - Oud Jan Venter (Preek van - Ds PA Snyman-Nuwejaar)

Sing: Ps.68:1; Ps.68:9; Ps.48:1; Ps.121:2,3;Ps.91:5,6

Lees: Gen28:1-22

Teks: Gen28:15-17

Tema: 'n God met ons!



22 Desember 2024

Sing: Ps. 97:1,6; Ps. 9:7; Ps. 42:1,3; Ps. 33:2,5; Ps. 105:5; Ps. 128:1,4.

Lees: Luk 1:57-66

Teks: Luk 1:66

Tema: Die genade van die Here vervul sy kinders met verwondering en blydskap.



Die gawe van God se genade

Die vervulling van God se beloftes wat reeds in die Ou Testament gegee is word duidelik in die Lukas evangelie verkondig. In die Ou Testament is die belofte reeds deur Maleagi gegee dat daar ‘n profeet sal kom wat die weg sal wys na die Messias. Die genade wat reeds aan Elisabet en Sagaria bewys het deur aan hulle in hulle ouderdom ‘n kindjie te gee. Die kindjie wat gegee word se naam beteken letterlik “die genade van die Here”. So word die geboorte van Johannes reeds die teken van die genade wat die Here in Christus aan sy volk sal betoon.

Die verwondering oor God se genade

Wanneer die mense hoor dat die seuntjie van Sagaria en Elisabet se naam Johannes sal wees is hulle met verwondering vervul. Die mense het oral oor hierdie gebeure begin praat. Hulle is in verwondering, nie net oor die geboorte en die naam van Johannes nie maar oor al die dinge wat in daardie tyd gebeur het. Die werke van die Here laat die gelowige kinders van God altyd in verwondering, want daardeur maak Hy die grootheid van sy almag bekend. Die werke van God het in ons diepste benoudheid en onsekerhede die wonderlikste uitwerking.

Die ontsag vir God se genade.

Wanneer die skare en die mense alles gesien het wat met Johannes se geboorte gebeur het bly hulle nie net in verwondering nie, maar hulle word met ontsag vervul. Met afwagting wil hulle verder sien wat met hierdie kindjie sal gebeur en hou die genade van die Here verder in sy lewe sal sigbaar word. Ons word ook by die bediening van die doop met verwondering en met ontsag vervul want ons word voor die groot genade werke van die Almagtige God gestel.


15 Desember 2024

Sing: Ps. 33:1,2; Ps. 33:6; Ps. 25:2,7; Ps. 46:1,4; Ps. 68:1,2.

Lees: Deut. 4:25-40

Teks: Deut. 4:35

Tema: Ons kan getuig dat die Here alleen God is wat gehoorsaamheid aan Hom eis 



Tema: Ons kan getuig dat die Here alleen God is wat gehoorsaamheid aan Hom eis 

Die Here is God alleen 

Ons is bevoorreg om in hierdie tyd te kan terugdink aan die viering van die Gelofte. Dit is ‘n gebeurtenis wat getuig dat die Here waarlik goed is vir ons as volk. Dit is egter ook belangrik dat ons sal begryp dat dit nie in die eerste plek gaan oor ons besondersheid nie, maar oor die Here wat homself op ‘n besondere manier in ons geskiedenis bekend gemaak het. In die boek Deuteronomium word Israel opgeroep om te weet dat die Here ‘n enige God is en dat daar geen ander is nie. Dit maak hy in die geskiedenis bekend.

Die Here eis gehoorsaamheid aan Hom

Die feit dat die Here ‘n enige Here is het besondere gevolge vir Israel wanneer hulle die land in besit geneem het. Hulle word opgeroep om in alles aan die Here gehoorsaam te wees. Hierdie gehoorsaamheid beteken dat hulle aan  die eenkant net die Here alleen mag aanbid en dat hulle aan die ander kant al sy gebooie en insettinge moet onderhou. Die Here eis gehoorsaamheid aan Hom omdat die volk dankbaar moet wees vir die verlossing wat Hy gegee het en omdat dit Hom verheerlik.

Die Here gee sy seën

Waar die volk die Here voor hulle stel as die enige Here en aan Hom en sy woorde gehoorsaam is sal Hy sy seën oor hulle gebied. Die Here se seëninge behels dat hulle lank in die land sal bly en dat dit met hulle in die land sal goedgaan. Die feit dat die Here hulle so sal seën is ook ‘n getuienis aan die ander volke dat die Here groter is as enige van die ander afgode. So kom alle eer Hom alleen toe.


8 Desember 2024

Sing: Ps. 75:1,2; Ps. 75:4; Ps. 139:1,9; Ps. 147:1,2,7; Ps. 103:1,9.

Lees: Luk. 1:5-25

Teks: Luk. 1:15-17

Tema: God stuur sy wegbereider om die volk voor te berei op die koms van sy Gesalfde



Tema: God stuur sy wegbereider om die volk voor te berei op die koms van sy Gesalfde

Die persoon van die wegbereider.

Die Here het in sy raad dit so beskik dat die geboorte van Christus voorafgegaan word van die wegbereider. Johannes die Doper is die een wat vir Sagaria en Elisabet gebore word wat hierdie heerlike taak sal hê. By die aankondiging van sy geboorte verseker die engel Gabriël vir Sagaria dat Johannes groot voor die Here sal wees en dat die volk bly sal wees oor sy koms. Die grootheid van Johannes is nie daarin gestel dat hy ʼn besondere mens is nie, maar hy is die een wat na Christus toe moet wys. Hy is die vriend van die bruidegom wat sy koms aankondig. Hy is nasireër van God wat Gees vervuld sy taak moet uitvoer

Die werk wat hy sal doen.

Hy is inderdaad groot voor die Here maar hy het ʼn spesifieke taak om voor die Here uit te voer. Die wegbereider is die persoon wat vooruit gaan om die koms van ʼn koning na ʼn stad aan te kondig. In ons teks is word die werk van Johannes gelykgestel aan dit wat Elia in die Ou Testament gedoen het. Hy sal die volk voorberei deur hulle op te roep tot bekering. Deur die krag van die Gees sal hy aan die Fariseërs, aan Herodes en elkeen wat sal kom die oproep tot bekering verkondig. is kinders van die Here het ons in hierdie dae ook die roeping om te volhard in die oproep tot bekering.

Die vrug op sy werk.

Die uiteinde van sy werk is dat hy ʼn toegeruste volk vir die koning daar sal stel. Hierdie toerusting wys daarop dat die volk gereed sal wees om deur die Here gebruik te word. Die bekering van God se kinders gaan nie in die eerste plek oor redding nie, maar oor die verheerliking van God se naam. Om bruikbaar te wees in sy diens moet ons inderdaad gereed gemaak word. In ons dae is daar nie Johannes die Doper nie, maar die Here het aan ons sy Woord en Gees gegee. Deur die Woord is ons toegerus om die oproep tot bekering te verkondig en so in diens van ons Here te staan.


1 Desember 2024

Sing: Ps.136:1,2,3; Ps136:19,20; Ps65:2,3; Ps42:1,5; Ps68:1,5.

Lees: Jes 41:8-20

Teks: Jes41:10

Tema: Ons hoef niks te vrees nie want God sal sy kinders bewaar.



Tema: Ons hoef niks te vrees nie want God sal sy kinders bewaar.

Die uitverkiesing van die Here

Dit wil vir ons dikwels voorkom of ons in ‘n hopelose situasie is. Sommige mense voel daar is geen hoop om in ons lewe te volhard nie, met die gevolg dat ‘n gees van moedeloosheid oor ons toesak. Die Here wil egter dat ons nie teen ons omstandighede vaskyk nie, maar ons ook op Hom gerig hou. Israel kon in in die moeilikste van omstandighede ook hulle oog gerig hou op die Here wat verlossing gee. In die midde van hulle donkerste uur van ballingskap kan hulle verseker weet dat hulle aan die Here behoort

Die beskerming van die Here

Die feit dat Israel die volk is wat die Here as sy eiendom uitgekies het, bied aan hulle ‘n besondere troos. Hulle hoef nie besorgd oor die toekoms te wees nie en hulle hoef nie angstig te wees nie, want die Here is die een wat hulle versorg. Hy is nie vêr van sy kinders af nie, want hy het in hulle midde kom woon en maak met hulle bemoeienis. Hy het ook sy reddende regterhand aan hulle  openbaar. Dit getuig van die Here se krag en almag waarmee hy sy kinders bewaar. In Christus het die Here so naby aan ons gekom.

Die oorwinning deur die Here

Die troos van die Here se nabyheid het ‘n wonderlike effek vir die volk. Die Here sal sy oorwinning en sy seëninge aan sy volk bekend maak. Hulle sal versterk word en in die oorwinning deel. Dit is die genade wat die kinders van die Here in die gawe van Christus ontvang het. Ons Here Jesus Christus het die magte van die Satan oorwin sodat ons nou daarin kan deel. Hy het die dood vernietig sodat ons nou in Hom kan lewe. In hierdie nuwe lewe wat ons in Christus ontvang het, ontvang ons die Here se seëninge.

 


24 November 2024

Sing: Ps. 107:1,2; Ps. 107:10; Ps. 38:1,8; Skr. 8:1,2; Ps. 149:1,2.

Lees: Luk 15:25-32

Teks: Luk 15:31-32

Tema: Deur Christus se versoening die kan ons vrolik wees vir die lewe wat ons ontvang.



Die seëninge waarop ons aanspraak maak

Die oudste seun is die derde karakter wat in die gelykenis van die verlore seun na vore kom. Hy verteenwoordig die Fariseërs en die Skrifgeleerdes wat aanstoot neem omdat Christus met die tollenaars en die sondaars meng. Hulle neem aan dat hulle in ‘n nabye verhouding met die Here leef bloot omdat hulle die besondere volk van die Here is. Hulle ag hulle self meer as die sondaars wat rondom hulle is en reken dat daardie ander nie in die seëninge mag deel wat die Here gee nie.

Die herstel wat Christus gee

Die genade wat die vader aan die jonger broer betoon het eis dat die ouer broer juis sal verstaan dat die vader genadig is oor wie hy genadig wil wees. Die gesprek wat die ouer broer met ‘n ander dienskneg het verkondig die wonderlike genade wat die vader aan die jonger seun betoon het. Hy het weer teruggekom. Die genade wat die Here aan ons gee in Christus gaan ons menslike verstand te bowe, want die gawe van die Here se genade is nie afhanklik van ons optrede nie.

Die blydskap waarin ons deel

Die seun word nou ook opgeroep tot blydskap want hier in hulle midde het iets besonders gebeur. Sy broer wat verlore was en in die dood was het weer lewend geword. Dit gee aanleiding tot vrolikheid en blydskap vir die gelowiges. Dit is nie net in die hemel wat daar blydskap is oor die sondaar wat tot bekering kom nie, maar ook hier op aarde. As gelowiges moet ons in hierdie blydskap met mekaar deel.


17 November 2024

Sing: Ps. 18:1,2; Ps. 18:14; Ps.25:2,7; Skr. 33:1,2; Ps. 23:3; Ps. 116. Ps. 33:1,5.

Lees: Luk 15:11-24

Teks: Luk 15:24

Tema: Christus het ons deur sy dood die lewe gegee sodat ons naby aan ons Vader en aan mekaar kan leef.



Die ellende van die dood

Die hartseer implikasie van die mens se sondeval was dat daar ‘n verwydering tussen ons en God en in al ons verhoudings gekom het. In die gelykenis van die verlore seun leer Christus sy dissipels en die Skrifgeleerdes wat die gevolge van hierdie werklikheid is. Die jongste seun gaan ver weg van sy ouerhuis af en verkwis sy erfdeel in ‘n ander land. Eindelik bevind hy homself in omstandighede wat vir hom soos die dood is. Met opregte berou keer hy terug na die vader huis sodat hy hom weer kan  dien. Wanneer ons voorberei om na die Nagmaal van die Here te kom moet is dit nodig dat ons sal verstaan watter geweldige gevolge die sonde in ons lewe het. Ons sondige natuur het verwydering tussen ons en die Here gebring

Die genade van die lewe 

Wanneer die Seun in sy sondebesef na sy vaderhuis terugkeer weet hy dat dit menslik nie moontlik is dat hy weer in die dieselfde posisie sal wees as voorheen nie. Daarom sal hy te vrede wees om maar net ‘n dienskneg te wees. Die vader van die huis is egter meer genadig as wat ons dink menslik moontlik is. Hy het gewag dat sy seun sal terug kom en hom eindelik verbly toe hy hom sien. Hy herstel sy posisie as sy kind dadelik en gee opdrag dat ‘n fees gereed gemaak moet word. Hierdie seun wat dood was lewe weer en nou het hy weer teruggekom na sy vader toe. Wanneer ons nou aan die nagmaal tafel aansit is die genade van Christus vir ons geopenbaar want deur sy dood lewe ons en kan ons deel in die fees wat ons Vader vir ons berei het.


10 November 2024

Sing: Ps. 145:1,2,3; Ps. 145:8; Ps. 102:1,8; Ps. 9:1,5,7; Ps. 100:1-4; Belydenis van geloof; Ps. 134:4.

Lees: Rom. 10:1-21

Teks: Rom. 10:9

Tema: Ons glo en bely die eenvoudige evangelie dat Christus die dood oorwin het



Die inhoud van ons belydenis

In die brief aan die Romeine is Paulus besig om die rykdom van die evangelie aan hierdie gemeente uiteen te sit. Dit is belangrik dat hy ook beklemtoon dat die heidene en Israel nie op verskillende maniere gered word nie. Israel het wel die wet ontvang en is die verbondsvolk van die Here, maar daar is ook alleen deur die verdienste van Christus vir hulle redding. Die Here se kinders kry alleen deur die geloof deel aan hierdie saligheid.

Die roeping van ons belydenis

Die kinders van die Here wat die eenvoudige goeie nuus van die evangelie met die hart glo, sal dit ook met die mond bely. Hierdie belydenis is ‘n getuienis van dit wat Christus aan die kruis gedoen het en die prys wat Hy betaal het. Hierdie belydenis van ons word voortgebring deur die bediening van die Woord wat ons elke Sondag hoor. Die Here stuur die predikers en gee die gawes sodat ons in die geloof kan groei en met sekerheid Christus kan bely.

Die gevolg van ons belydenis

Die gevolg van ons geloof en belydenis is vir ons tot redding. Ons moet verstaan dat dit nie ons geloof is wat ons red nie, maar Christus wat aan die kruis gesterf het en uit die dood opgestaan het. Deur die geloof kry ons daaraan deel en met ons belydenis getuig ons daarvan in dankbaarheid. Hier word ook ‘n dringende waarskuwing gerig, want Israel het te midde van die verkondiging wat hulle gehoor het, nie ag gegee op die evangelie nie en eindelik Christus verwerp.


3 November 2024

Sing: Ps. 91:1,6; Ps. 91:8; Ps. 65:2,3; Ps. 34:1,3,8; Ps. 33:6,11

Lees: Matt. 15:21-28

Teks: Matt. 15:28

Tema: Ons groei in afhanklikheid van Christus deur beproewing in die geloof.



Die oënskynlike stilte van Christus.

Dit is die wil van die Here dat ons voortdurend in die geloof sal groei sodat ons meer die gestalte van Christus sal vertoon. Hy bewerk hierdie groei op verskillende maniere, maar ook deur beproewing. In die ontmoeting wat tussen die Kananese vrou en Christus plaasvind sien ons hoe haar beproewing haar al hoe meer en dringender in die geloof aan Christus vasgryp. Haar hulpkreet word egter met stilte begroet. Dikwels voel dit ook vir ons of ons gebede na God met stilte begroet word.

Die oënskynlike verwerping deur Christus.

Eindelik word die stilte gebreek en Christus gee ag op haar geroep, maar die antwoord van ons Here is amper meer skokkend as wat die stilte was. Dit wil voorkom of Hy haar geheel en al verwerp, asof Hy geen ag op haar kreet gaan gee nie. Die tyd het egter nog nie aangebreek dat die woord en daadprediking van Christus na die nasies uitbrei nie. Hy het vir die skape van Israel gekom en die seëninge van gesondmaking is vir sy volk bedoel. Ons is nie geregtig op die genade van die Here nie, want ons is maar ellendig in ons sonde.

Die seker gawe van Christus.

Op hierdie stadium wil dit voorkom of sy maar moet moed opgee en haar beproewing self deurworstel. Maar sy volhard om by die Here te pleit want Hy is haar enigste hoop. In Christus se antwoord aan haar bevestig hy die grootsheid van haar geloof en haar dogter word gesond. Hierdeur leer die Here sy dissipels dat Hy inderdaad gekom het om Israel te red maar dat dit ook aan de heidene gegee sal word. Die gawe van geloof is vir die vrou en haar dogter bestem. Dit is die rykdom van sy gawes wat Hy gee.


27 Oktober 2024

Sing: Ps. 92:1,2; Ps. 92:5 Ps. 130:1,2,4 Skr. 31:1,3; Ps. 46:1,4,6.

Lees: Psalm 11

Teks: Psalm 11:3

Tema: Te midde van bose aanslae sal die Here sy regverdigheid en genade openbaar.



Hopeloosheid van die bose aanslag

Psalm 11 is n gedig van Dawid wat hy in die midde van diep beproewing en geweldige aanslae onder inspirasie van die Heilige Gees geskryf het. In die midde van die aanslae wat hy beleef vind hy altyd sy skuiling by die Here. Hy het egter nie alleen in die lewe gestaan nie en dikwels het hy raad van sy vriende en raadgewers ontvang. Hulle raad is nou vir hom dat hy moet vlug en homself een beskerm. Die fondament word omgegooi en dan kan niemand meer iets doen nie. dikwels voel ons hopeloos in die midde van aanslae wat ons beleef.


Sekerheid in die Here se koningskap

Die kind van die Here bly nie in die midde van die aanslae vasgevang in hopeloosheid nie, maar kan die geloofsoog op die Here rig. Dit is immers daarin Dawid ware troos en versterking vind. Die wete dat hy altyd sy toevlug tot die Here kan neem is die fondament van sy vertroue. Die Here is koning en Hy is op sy troon vanwaar hy alles in die skepping onderhou en regeer. Die Here is die Alsiende en die Alwetende in die midde van ons lewe. Daarom het ons die sekerheid dat daar niks is wat met ons gebeur wat nie in die Here se

raad bestaan nie.


Oordeel en genade voor die Here se aangesig

Die Here sien egter nie net ons beproewings nie, maar Hy tree ook daarin op. Hy tree op teen die goddeloses en maar ook vir die regverdiges. Die Here sal sy regverdige oordeel bring oor almal wat hulle teen die kinders van die Here vergryp, maar Hy sal ook genade aan die regverdiges betoon. Deur die verdienste van Jesus Christus het ons die sekerheid dat ons weer voor die aangesig van die Here kan leef. Daarom kan ons altyd ons toevlug na Hom neem.


20 Oktober2024

Sing: Ps. 150:1,3; Ps. 107:1; Ps. 25:6,7; Ps. 71:1,2; Ps. 118:1,2

Lees: Matt 16:13 13-23.

Teks: Matt 16:17 17-19.

Tema: God bou sy gemeente onvernietigbaar op die belydenis van Jesus Christus sy Seun.



God openbaar Christus.

In die omwandeling van Christus op aarde het Hy deur sy woorde en dade

verkondig dat die koninkryk van God naby gekom het. Christus is die

gesalfde wat as koning in die ryk van die Vader optree. Met hierdie tema in

gedagte vra Christus nou sy dissipels wie hulle sê Hy is. Petrus antwoord

duidelik dat Hy die Christus is, die een wat as gesalfde kom om die

koninkryk van God te vestig en te herstel. Hierdie belydenis van Petrus is

nie iets wat hy self bedink het of wat ander aan hom vertel het nie, maar

dit is wat die Vader deur sy Gees aan sy kinders openbaar. Die wat hierdie

openbaring ontvang is salig.

Christus bou sy gemeente.

Die gevolg hiervan is dat Christus sy gemeente op hierdie hoeksteen van

Petrus se belydenis sal bou. Die rots weerspieël ook in die naam wat Petrus

ontvang. Dit is nie omdat hy ʼn besondere persoon is nie, maar omdat hy

begenadig is om die openbaring van Christus as die seun van God kon

ontvang. Die bouwerk van Christus dra ook ʼn besondere karakter in die

wete dat sy bouwerk onvernietigbaar is. Hy sal die werke van sy hande nie

laat vaar nie en hy bewaar en beskerm sy gemeente in tot by die

wederkoms. Hy is die hoeksteen en waar die waarheid van sy evangelie

woord verkondig word sal die kerk altyd onder die beskerming van

Christus wees.

Die gemeente hanteer die sleutels van die koninkryk.

Wanneer ons hierdie dinge hoor mag ons moontlik onder die indruk wees

dat die gemeente eintlik passief in sy eie bestaan is. Ons mag moontlik

dink dat ons maar net rustig met ons lewe kan voortgaan want hierdie

gemeente sal tog altyd bestaan. Christus leer egter dat Hy in sy bouwerk

juis die sleutels van die koninkryk aan sy kerk gee. In die eerste plek wys

dit op die geweldige roeping van die ampsdraers om in gehoorsaamheid

aan die Here se woord in die midde van die gemeente te regeer, maar dit

wys ook op die verantwoordelikheid van elkeen van ons oor mekaar te

waak en mekaar met die waarheid van die evangelie te bedien.


13 Oktober 2024

Sing: Ps. 105:1,3; Ps. 105:4; Ps. 25:1,3; Ps. 115:1,7,8; Ps. 71:1,9,10.

Lees: Deut. 3:21-29

Teks: Deut. 3:26

Tema: Die Here voer sy raad deur al is sy antwoord nee op ons gebede.



Die versoek

Moses is die man wat deur die Here uitgekies is om sy volk uit die slawehuis van Egipte uit te lei, deur die omswerwinge van die woestyntyd deur te lei, maar hy mag nie die volk die beloofdeland in lei nie. Die rede hiervoor is eerstens omdat hy nie gehoorsaam aan die Here was by die waters van Meriba toe hy die rots geslaan het nie. Te midde van die feit dat hy die volk nie mag inlei nie het hy in die gebed telkens tot die Here gesmeek. Ons bid dikwels met goeie bedoelinge dat die Here tog iets sal toelaat ter wille van ons.

Die antwoord

In die geskiedenis wat Moses aan die volk vertel meld hy dat hy die Here gesmeek het om tog die land in te gaan, maar die Here het geweier. In so mate dat Hy Moses ernstig vermaan het  dat dit genoeg is en dat hy nie verder moet vra nie. Maar die Here weier nie net vanweë Moses se sonde nie, maar ook die van die volk. Moses is die middelaar wat ook verantwoording vir die volk se sonde dra, maar hy is onvolmaak en kan hulle nie van hulle oortredinge verlos nie. daarom kan hy hulle nie in die land inlei nie.

Die roeping

Tog laat die Here Moses nie net daar nie. Hy laat Moses toe om die land te sien, maar sy taak is nou om Josua te versterk en te bemoedig om die taak wat hy begin het af te handel. Eindelik openbaar die Here aan Moses dat hy nie ʼn volmaakte middelaar is nie en dat daar een na hom sal kom. Jesus Christus is die middelaar wat sy kinders uit die slawehuis van die sonde verlos het, maar ook in die ewige woning van die Vader inlei.



Sing: Ps. 75:1,2,4; Ps. 33:6; Ps. 91:1,2; Ps. 86:5,6; Skr. 24:1,5.

Lees: Heb. 9:1-14

Teks: Heb. 9:14

Tema: Christus reinig ons gewete sodat ons die lewende Here kan dien



Die offer van Christus

Die kruising van die ons Here Jesus staan in die sentrum van ons geloofslewe. Hy het aan die kruis voor ons sondes betaal en ons weer met ons Vader versoen sodat ons die ewige lewe kan hê. hierdie wonderlike verlossings feit het nie net betekenis vir ons toekoms nie, maar vir ons daaglikse lewe. In die brief aan die Hebreërs leer die Here ons hoe die Ou Testament heengewys het na Christus toe en dat al die offers wat die volk gebring het vorentoe gewys het na die een offer van Christus.

Die reiniging van ons gewete 

Soos die hoëpriester in die allerheiligste moes ingaan om op die groot versoendag die volk voor die Here te reinig het Christus dit deur sy kruisdood gedoen. Hy het ‘n eenmalige en volkome versoening vir ons bewerk, maar daarmee saam het hy ons gewete gereinig van die dooie werke. Die gewete wys hier op die innerlike gedagte van ‘n mens om te onderskei tussen reg en verkeerd. Deur die sonde is ons gewete so besmet dat ons weet ons staan skuldig voor die Here, maar Christus het dit vir ons kom verander dat ons in ware vreugde lewe

Die diens aan die Here

Wanneer die kinders van die Here se gewete deur Christus gereinig is word ons geroep om Hom dien. In ons Skrifgedeelte word die dooie werke en diens aan die lewende Here teenoor mekaar gestel. Die dooie werke waardeur die mens self probeer om God se guns te wen, baat ons niks. Dit wat ons egter as nuwe mense wat deur Christus gereinig is doen getuig van dankbaarheid en diensbaarheid aan Hom. Ons kan die Here alleen in waarheid dien omdat ons deur Christus rein gewas is en vernuwe is.


29September2024

Sing: Ps. 48:1,4; Ps. 48:5; Ps. 105:23,24; Ps. 103:1,3; Ps.147:1,2

Lees: Efesiërs 4:17-32

Teks: Efesiërs 4:20-21

Tema: Ons het Christus leer ken daarom leef ons nuut



Dit wat ons was

Paulus skryf ʼn omsendbrief aan gemeentes in die omgewing van Efese en Laodisea om aan hulle toe te rus wat dit beteken om kerk te wees. Die gemeente is die liggaam van Christus en moet dit as ʼn getuienis in die wêreld uitleef. Daarom doen Paulus ʼn ernstige beroep op die gemeente om te weet wat hulle was. Die gemeente van die Christus moet weet dat hulle vroeër soos die heidene in die wêreld was en dat hulle nou nie meer soos hulle moet wees nie. Hulle lewe nou ʼn nuwe lewe

Hom wat ons ken

Teenoor die onrein lewenswandel van die heidene staan die nuwe lewe waarin die gemeente van Christus moet wandel. Die nuwe lewe het vir die gelowiges begin toe hulle Jesus as die Gesalfde leer ken het. Dit is wat die gemeente van Christus onderskei van die wêreld, naamlik dat hulle onderrig is in wat dit beteken om aan Christus te behoort. Die wat van hom gehoor het en Hom leer ken het en nou aan Hom behoort moet op hierdie nuwe lewensweg volhard.

Dit wat ons word

Die nuwe lewe waarop die gemeente nou moet volhard, spruit voort uit die feit hulle nuut gemaak is. Wat die nuwe lewe behels word duidelik deur Paulus geleer. Dit behels dat die ou mens uit getrek moet word soos ʼn mens vul klere uittrek en dan innerlik vernuwe word. Die Heilige Gees vernuwe ons innerlik sodat ons opnuut in hierdie wêreld kan leef. Dit is ʼn lewe wat gekenmerk word deur geregtigheid en heiligheid, waarin ons hele lewe aan God gewy word.

Oor ons leraar

Kontak GK Magol

Raak deel van ons gemeente.

©Gereformeerde Kerk Magol 2024